Karringmelk broodjie

Dit frustreer my eindloos as 'n resep sê ek moet iets koop wat ek weet ek nooit weer gaan gebruik nie. Nie net is dit vir my onprakties om bv 'n hele bottel ryswyn te koop vir 10 ml nie, dis ook net 'n tyd/geld mors. Gewoonlik los ek dit sommer uit en maak iets heeltemal oorspronklik. Met die Red Velvet resep wat ek reeds geplaas, gebruik jy 'n halwe houer (250 ml) karringmelk. Wat beteken oor 2 weke klim daardie orige karringmelk uit die yskas en groet my met die hand. Jy kan seker die Red Velvet beslag dubbeld maak, maar  dis alreeds 'n groot koek.

So, my nuwe plan? Kombineer resepte sodat jy een kan maak met 'n ander een se orige bestanddele. Dus is my eerste een: Karringmelk broodjie. Dis eintlik meer 'n Karringmelk beskuit-broodjie. Aangesien daar geen gis in kom nie is dit redelik toegeslaan en raak dit nie veel groter as die bol deeg wat jy in die oond sit nie. Maar nietemin, baie lekker. Die Wederhelfde weet nou dat wanneer ek die Red Velvet koek bak, hy iewers in die volgende paar dae ook 'n gebakte broodjie gaan kry.


KARRINGMELK BROODJIE - ROND



625 ml koekmeel                                                            
1 ml koeksoda
5 ml sout                                                                            
200 ml karringmelk
90 g botter, gesmelt                                                     
15 ml gouestroop of molasse

Sif meel, koeksoda en sout saam.  Roer karringmelk, 60 g botter en stroop by en meng tot sagte deeg.  Plaas deeg op meelbestrooide oppervlak en knie vir 5 minute tot glad en elasties.  Maak ronde broodjie.  Met 'n skerp mes, maak snye ongeveer 10mm diep in deeg.  Plaas op bakplaat en bak by 190ºC vir 30 minute.  Smeer res van gesmelte botter oor en laat effens afkoel.  Sny in afgemerkte wiggies en bedien.


(Dis hoe dit gelyk het na 30 min...Notice the inside? Ek het myne op die ou end vir 45 min ingesit.)

No comments:

Post a Comment